DIE DEBAT OOR HALAAL – INLIGTINGSTUK

AGTERGROND

Soos waarskynlik teen hierdie tyd aan almal bekend, dui die halaal sertifiseringsmerke aan dat voedselstowwe waarop dit aangebring is, voldoen aan rites soos deur die Moslemgeloof voorgeskryf, in besonder ook voorskrifte mbt die slag van diere, om sodoende daardie voedselstowwe aan hul god te wy. (Halaal of “geoorloof’ teenoor haraam). Dit is ook algemeen bekend dat, anders as gewone handelsmerke, is die reghebbendes op sulke sertifiseringsmerke (“eienaars”) nie die produsente van/handelaars in die betrokke goedere is nie, maar die sertifiseringsliggaam wat die merk geregistreer het.  Daar is tans vier halaal sertifiseringsliggame naamlik die:

 

  • Muslim Judicial Council (MIC)
  • South African National Halaal Authority (SANHA)
  • Islamic Council SA (ICSA)
  • National Independent Halaal Trust (NIHT).

 

Vir meer besonderhede, kyk http://www.islamiccouncilsa.co.za/#

Enige produsent of handelaar wat dus ‘n kliëntebasis onder Moslems wil vestig deur daardie merk(e) te gebruik, moet dus die reg daartoe van die betrokke sertifiseringsliggaam verkry.  Daar- voor is tantieme (royalties) betaalbaar en hierdie bedrae word na die verbruikers afgewentel.  Geld wat so geïn word kan dan na goeddunke deur die sertifiseringsliggaam aangewend word en die halaal sertifiserings industrie het in die laaste tyd enorme proporsies aangeneem (internasionaal $2,3 triljoen; SANHA se inkomste in 2015 na bewering R18,69 miljoen); vandaar die bewusmakingsaksies wat in die jongste tyd onder Christene plaasgevind het en die besorgdheid waarop dit uitgeloop het.

BESWARE (Vir meer besonderhede, kyk www.christianfriendlyproducts.com)

  • HALAALPRODUKTE WORD AAN VERBRUIKERS WAT AAN ANDER GELOWE BEHOORT, OPGEDRING:-

Al is slegs ongeveer 2% van die Suid-Afrikaanse bevolking Moslems, het die omvang van halaal-sertifisering sulke afmetings aangeneem dat dit op ongeveer 80% van alle voedselprodukte voorkom.  Verbruikers word dus wetend of onwetend verplig om halaal produkte te koop en so-doende word hulle van hul konstitusionele reg tot ‘n vrye keuse ontneem, omdat daar in meeste gevalle nie ‘n alternatief op die rakke beskikbaar is nie. Dit word vererger deurdat halaalmerke gewoonlik so onopvallend klein en agter op die verpakking van ‘n produk aangebring word dat die gewone  verbruiker dit nie raaksien nie en baie nie daarvan bewus is nie.

Meer nog, kragtens ooreenkomste tussen halaal sertifiseringsorganisasies, verskaffers van bestanddele en konsessiegewers (franchisers) word voornemende konsessiehouers (franchisees) geen keuse gelaat nie, as om toe te stem om uitsluitlik halaal gesertifiseerde bestanddele te gebruik in hul (derhalwe halaal) produkte wat hulle aan die publiek verkoop. Voorbeelde van sulke konsessies is onder andere KFC, Nandos, McDonalds en Chicken Licken. ‘n Christen of ‘n Jood wat so ‘n konsessie wil bekom, sal dus geen ander keuse hê nie, as om die produkte in stryd met sy/haar godsdienstige oortuigings aan die publiek te verskaf!

  • ONS WORD GEDWING OM ‘N GODSDIENS TE ONDERSTEUN WAT ONS NIE AANHANG NIE

Dat tantieme betaalbaar is, kan nie betwis word nie! Die ICSA se webblad waarna die leser hierbo verwys word, bevestig dit. Beswaarmakers wil Moslems NIE hul reg ontsê om hul geloof te bevorder en fondse vir daardie doel in te samel nie, maar om ander gelowe te verplig om hul geloof  te bevorder, is vir meeste totaal onaanvaarbaar!  Bowendien, weet niemand of – en hoeveel van die geld wat so geïn word, vir terroristiese aktiwiteite van ekstrimistiese Moslem-organisasies aangewend word nie! (‘n Onderhoud met ‘n ekstrimistiese moslemleier in België wat op die Facebook Blad van die Christianfriendly Products Organisasie te sien is, is in besonder kommerwekkend). Die kanse om ooit akkurate inligting te kry oor hoe die tantieme wat deur sertifisering ingesamel word, aangewend word, is uiters skraal, al sou daar ‘n saak uitgemaak kon word dat bekendmaking in die openbare belang is!  Nogtans behoort enige inisiatief om daardie inligting ty verkry, ondersteun te word.

Baie Moslems bevraagteken die halaal sertifiseringsisteem as slegs nog ‘n wanpraktyk om geld te genereer (“money making racket”).

Bowendien wil die owerheid nou by wyse van regulasie die sertifisering van voedselprodukte op grond van godsdienstige oorwegings totaal uitsluit, sodat geen inligting hoegenaamd, daaroor aan die publiek beskikbaar gestel sal kan word nie. Daarteen is inderdaad beswaar aangeteken, maar dit is nie bekend of die owerhede hul voorneme in hierdie verband laat vaar het nie.

  • WREEDHEID TEENOOR DIERE

Selfs ander instansies (bv die RSPCA in Engeland) en persone wat nie noodwendig gelowiges is nie, het al op grond hiervan beswaar gemaak teen die manier waarop diere volgens Moslem rites geslag word.  Waar diere vandag algemeen by slagpale op die een of ander manier verdoof word voordat hulle geslag word, skryf Moslem rites daarteenoor voor dat ‘n dier keelaf gesny moet word sonder enige verdowing.

GEWETENSBESWARE

Ons weet dat die Bybel leer dat Christene alles “wat in ‘n slaghuis verkoop word, kan … eet sonder om ter wille van die gewete daaroor navraag te doen, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan die Here. As ‘n ongelowige julle uitnooi en julle besluit om te gaan, kan julle eet wat vir julle voorgesit word, sonder om ter wille van die gewete navraag te doen. Maar as iemand vir julle sê: ‘die vleis is ‘n afgodsoffer,’ moet julle dit nie eet nie, ter wille van hom wat dit gesê het en ter wille van die gewete …. van die ander man.” ( 1Kor 10:25-29).  Verder “Of julle eet en of julle drink of wat julle ookal doen, doen alles tot eer van God.” (1Kor 10:31.  Wat sê dit vir ons oor die dieper betekenis van die tafelgebed?). “Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie.” (1 Kor. 10:32). Die belangrike voorbehoud is dat ek nie ‘n ander deur my optrede laat struikel nie.  Kyk in die algemeen 1 Kor. 8:7, 10-12; 9:1, 19; Eks. 9:29, Rom.14:6, Luk. 10:7, Hand. 10:15.

Omdat die voorbehoude in hierdie tekste egter twyfel by sommige lidmate bring, MOET daar ‘n REG tot VRYE KEUSE tot almal se beskikking wees!

WAT STAAN GELOWIGE CHRISTENE TE DOEN?

Ongelukkig moet ons, voordat ons hierdie vraag sinvol kan beantwoord, eers as Christengelowiges hand in eie boesem steek oor ‘n klompie krapperige kwessies waaraan ons dikwels liewer nie wil dink nie:-

  • Hoe lyk die profiel van die (gewone) moderne Christen op straat en as ons onsself dit afvra, is ons meer behep daarmee oor wat die wêreld van ons dink, of hoe die Here ons sien?
  • Kom ons met dieselfde ywer uit vir ons geloof as byvoorbeeld die Moslems, of is ons meer geneig om onder mekaar, tussen gemeentes en tussen denominasies te baklei, maar wan-neer ons vir Christus moet uitkom, is ons eintlik APOLOGETIES teenoor die wêreld, ander gelowe of drukgroepe wat hul eie standpunte/agendas op die Kerk wil afdwing? Sal ons as Christene dus, in ‘n saak soos hierdie, kan saamstaan, of sal ons inisiatiewe uit die geledere van ander denominasies eerder met agterdog wil bejeën en hul motiewe wil bevraag teken? Ons moet erken dat hierdie lou apatiese/apologetiese houding ‘n massiewe meul steen om die enkels van die missionale kerk is!
  • Aansluitend by die vorige vraag, moet ons die hele situasie rondom die toenemende gebruik van halaalmerke sien as ‘n bedreiging, of eerder as ‘n UITDAGING, of beter nog, as ‘n GELEENTHEID om die EVANGELIE OPNUUT aan die WêRELD TE BRING?
  • Voortvloeiend uit die bogenoemde vrae, wat sou die HERE VAN DIE MISSIONALE KERK VERWAG, maar net nog ‘n kruistog (nou in vorm van ‘n ekonomiese oorlog/boikotte ens. het hierdie aksies al ooit enige veld vir die Christendom in die moslemwêreld gewen, of die Moslems maar net tot groter en meer aggressiewe ywer vir hul geloof aangespoor), of ”n MEER POSITIEWE benadering?

 

Dit sal geen doel dien om vingers na mekaar of na ander te wys oor hierdie kwessies nie, maar dit behoort ons almal tot diep nadenke te stem!

Onbetrokkenheid aan die kant van so baie Christene bring verder onkunde mee: hoeveel van ons mense weet hoe die halaal merke lyk?  Die feit dat daardie merke so onopsigtelik op houers aangebring word, dra sekerlik ook daartoe by dat daardie merke vir ‘n geruime tyd sonder enige ophef fondse vir die moslemgeloof gegenereer het!

Daar is dus weinig wat individue, gemeentes of selfs Kerke aan die saak kan doen, behalwe om inligting deur te gee oor die voorkoms van die merke, die wye verskeidenheid van produkte waarop dit aangebring word en die (onopsigtelike) manier waarop dit op houers verskyn.  Sulke bewusmakingsaksies kan gerus in die gemeente of beter nog, gesamentlik deur plaaslike gemeentes en kerke, geloods word om  lidmate sensitief te maak oor die aangeleentheid.

Selfs as individuele ondernemings, soos deur Karoo Ochse gedoen is (kyk die Facebook blad van Christianfriendly Products, hierbo), hul verbintenis met halaal opsê, sal dit weinig impak hê.

Enige verdere aksie sal gevolglik oor ‘n breër front aangepak moet word:-

Natuurlik het Christene meer as genoeg rede om beswaar te maak, maar daardie besware sal op-geweeg word teen ander (ook regsgeldige) belange!  Ons moet onthou dat ons hier met merke te doen het wat regsgeldig geregistreer is en dat die gebruik daarvan gevestigde ekonomiese belange vir nie net Moslem instansies nie, maar ook vir ander produsente en handelaars, meegebring het!  Dit sal dus weinig impak hê, as individue die saak met hul plaaslike supermark sou probeer opneem.  Selfs as gemeentes, kerke of organisasies by vervaardigers, produsente of handelaars beswaar sou aanteken teen die gebruik van halaalmerke, sal dit heelwaarskynlik op dowe ore val!

Die saak kan sekerlik met die Verbruikersraad en/of die Raad op Mededinging opgeneem word, maar hierdie instansies sal dieselfde afweging van botsende belange moet doen as die een waar-na daar sopas verwys is.  Dit kan aanvaar word dat die geldigheid van die registrasie, die reeds langdurige gebruik van die merke en die gevestigde belange wat dit meegebring het, baie gewig by hierdie instansies sal dra!

Selfs gekoördineerde beswaarmakingsaksies kan dus in stede van sukses, ‘n teenproduktiewe uit-werking van meer vyandigheid in ‘n reeds gepolariseerde gemeenskap tot gevolg hê, iets wat sekerlik nie te rym is met die opdrag van ons Meester dat ons sover dit moontlik is, ook in vrede met ongelowiges moet leef nie!  Oorweeg byvoorbeeld ‘n situasie waar ‘n organisasie met moslem- verbintenis en wat heelwaarskynlik uit die opbrengs van halaal sertifisering befonds word, gepaard met groot reklame sou reël dat ekstremistiese organisasies gyselaars vrylaat, of dat boere in droogtegeteisterde gebiede voer, waarskynlik deur ander gelowige boere verskaf, sou ontvang: wie

sou in die lig van die gepaardgaande reklame, die beeld van die barmhartige Samaritaan  uitdra -daardie organisasie of die verskaffers?  Watter wanpersepsies sou verder die wêreld ingestuur word as die sertifiseringsliggaam aangevat sou word maar doodeenvoudig sou openbaar dat dit juis daardie organisasie is wat as eerste prioriteit befonds word?

 

WAT IS DIE ALTERNATIEF?

Natuurlik is daar meriete in beswaarmaking, maar die STRATEGIE MOET VERFYN en AANGEPAS word van een van konfrontasie na een van KOMPETISIE!   Let daarop dat die halaalmerke as simbole per se, die belangrikste rol gespeel het om gevestigde regte en ekonomiese belange te skep!   Dink verder aan die belangrike  rol wat godsdienstige simbole in Bybelse tye gespeel het! ALLE BELANGEGROEPE is daarop geregtig om hul eie merke te REGISTREER en daar bestaan voorsiening vir internasionale registrasie met die oog op WêRELDWYE beskerming!

Daar is egter BELANGRIKE VOORBEHOUDE:

  • Die simbool mag NIE self tot afgod verhef word nie: Die ark in die middel van die Jordaan het as simbool van die ALMAG en die BYSTAND van die HERE, die Israeliete daartoe beweeg om uiteindelik die beloofde land binne te gaan, maar dieselfde ark het later in Eli se tyd in die hande van die Filistyne beland omdat die Israeliete hul vertroue op die ark self (simbool) en nie die Here nie, geplaas het.
  • Die klem moet op die bevordering van die Koninkryk van die Here en die verkondiging van die Evangelie val, met voldoende wigte en teenwigte om gewetenloses wat die simbool vir eie gewin wil misbruik, uit te hou. In die konteks van ‘n sertifiseringsmerk vir voedselprodukte, moet dit SLEGS ‘n boodskap van ERKENNING uitdra dat hierdie produk ‘n GENADEGAWE is van die GEWER VAN ALLE GOEIE GAWES, die WARE en DRIE-ENIGE GOD, niks meer nie en niks minder nie (d.w.s. nie gekoppel aan die aan of afwesigheid van die een of ander ritueel by vervaardiging of produksie nie). Die hele Christendom moet spontaan met die merk kan identifiseer, sonder die geringste sweem van agterdog oor moontlike verskuilde motiewe aan die kant van diegene wat die inisiatief geneem het!

DAAR IS NOU INDERDAAD so ‘n MERK HIER PLAASLIK GEREGISTREER en indien die gebruik daarvan aan die bogenoemde geloofwaardigheidskriteria voldoen en hierdie inisiatief die ONDER-STEUNING KRY wat dit VERDIEN, kan dit ENORME VOORDELE inhou.  KOM ONS BID DAT DIE HERE SELF BEHEER SAL NEEM OOR DIE GEBRUIK DAARVAN en die inisiatief VOLDOENDE ONDERSTEUNING sal kry om effektief tot SY EER te funksioneer!  Daarna kan ons dit aan ons Meester oorlaat om die mosterdsaad te laat groei of die suurdeeg te laat werk.  Die voordele/moontlikhede  wat dit inhou is:-

  • Registrasie bied wetlike beskerming aan die merk as sulks èn daarmee saam die belange wat dit verteenwoordig, naamlik dat die goedere waarop dit aangebring is, voldoen aan die vereistes van gehalte, oorsprong en aard wat die merk veronderstel is om te waarborg. Wat nou nodig is, is voldoende bekendstelling aan Christen verbruikers, produsente en handelaars, van die merk en die voordele wat dit inhou. Vir dit waarvoor die merk staan en wat aan belanghebbendes aangebied word, kyk christianfriendlyproducts.com
  • Christenverbruikers kry groter vryheid van keuse en die reg tot ingeligte besluitneming, sonder om ander se regte aan te tas. Daar is dus geen regsgeldige grond vir beswaar deur ander instansies nie, want mededingingsvryheid word bevorder.
  • Bo alles egter, kry Christene nog ‘n geleentheid en word hulle uitgedaag om by te dra tot verkondiging van die Evangelie! Die sertifiseringsliggaam het dieselfde strategie as die Moslem instansies om produsente, vervaardigers en handelaars aan boord te kry. Die gedagte is dat tantieme betaalbaar, vir projekte ter verkondiging van die Evangelie aangewend sal word en die voorneme is om aan betalende instansies inspraak te gee rakende spesifieke projekte wat laasgenoemde wil ondersteun of inisieer.
  • Dit bied dus ‘n geleentheid vir Christen individue, instansies en kerke om missionaal te dink, strategie te beplan en daardie strategieë tot uitvoering te bring.
  • In geval van misbruik deur ‘n geassosieerde gebruiker, kan laasgenoemde se gebruik van die merk maklik deur die sertifiseringsliggaam opgeskort/beëindig word: al wat benodig word, is ‘n uitdruklike kansellasieklousule in die kontrak. Net so kan ‘n ontevrede gebruiker uittree as die situasie dit regverdig.
  • Merke van hierdie aard het verder die eienskap dat hulle op sigself ‘n boodskap uitdra a.g.v. die reputasie wat die merk onder lede van die publiek verwerf en die assosiasies wat op hierdie manier in die gedagtes van die publiek (ook nie-Christene) gevorm word. Die merk kan dus op sigself die boodskap van Christus uitdra, selfs na plekke waar ons nie sal uitkom nie; ook ‘n boodskap wat alle ander oortref, want dit verkondig die lewende en die enigste  ware God!

DIE MERIETE VAN SERTIFISERINGSMERKE wat geassosieer word met die EVANGELIE VAN JESUS CHRISTUS EN ONDERSTEUNING VAN INISIATIEWE OM DIT IN PLEK TE PLAAS, kan dus onderhewig aan voorbehoude wat belanghebbendes sou wou stel, as ‘n strategie oorweeg word. DAAROM WORD DAAR VOORGESTEL DAT:-

  1. Ons almal ernstig bid dat die Here self aan ons leiding sal verskaf oor hoe Hy wil hê dat hierdie moeilike saak hanteer moet word en indien Hy dit anders wil as wat in hierdie stuk beskryf is, dat Hy vir ons die weg sal aanwys. Indien ons egter op die regte pad is, dat Sy seën op die projek sal rus en dat Hy self mense sal aanwys om die proses tot verheerliking van Sy NAAM verder te bestuur.
  2. Gemeentelede weer eens en voortdurend ingelig word oor die toenemende gebruik van halaalmerke, hoe hulle lyk en die gevare wat verband hou met die aksies wat deur tantieme so gegenereer, befonds word; verder dat Christene weet dat hulle ‘n vrye keuse behoort te hê, maar dat daardie reg tot vrye keuse onregmatig deur ‘n gebrek aan beskikbaarheid van alternatiewe aan bande gelê word.
  3. Gemeentelede ook volledig ingelig word oor inisiatiewe om Christelike sertifiseringsmerke in plek te plaas en aangemoedig word om dit te ondersteun.
  4. Daar wyd op makrovlak tussen gemeentes en Christelike kerkgenootskappe oorleg gepleeg moet word oor strategieë om die probleme met betrekking tot die gebruik van halaal en ander merke aan te spreek, insluitende oorleg met enige liggaam, soos Christianfriendly Products, wat dit oorweeg om ‘n teenvoeter vir halaalmerke te registreer en te administreer, oor die promosie en alle fasette rakende die gebruik daarvan.

SLOTOPMERKING:  Mag die Here gee dat Sy kinders hierdie aangeleentheid nie as ‘n bedreiging sien nie, maar eerder as ‘n gulde geleentheid om op nog ‘n manier Sy boodskap aan die wêreld te bring en Sy Naam te verheerlik; asook as ‘n uitdaging aan denominasies en gemeentes om by strategiese beplanning steeds meer missionaal te dink en dienooreenkomstig op te tree!  Alle eer aan ons God en Hemelse Vader!

Hier volg skakels vir meer inligting:

SAPMC REPORT BACK

RESEARCH PAPER HALAAL

VIDEO OOR HALAAL

BRONNE GEBRUIK:
http://www.christianfriendlyproducts.com/afr/index.php/

www.wayne madsen | 08.01.2017 | featured story
https://www.facebook.com/SA-Prayer-Movement-for-Change-280280782133957

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

− 6 = 2