PAASFEES

PAASFEES 2020

Daar is derduisende mense, selfs Christene, wat as ‘n mens vir hulle sou vra waaroor Paasfees gaan, waarskynlik nie veel verder sal kom as paaseiers en “hot cross buns” nie. Dit is ongelooflik hartseer, want as daar nou een kerklike seisoen is wat in die hart van ons geloofslewe staan, is dit juis die Paasgebeure. Dit bring Dirkie Smit sover om te skryf: “Die evangeiie van Jesus Christus is opstandingsevangelie. Die opstanding vorm die hart van die Christelike verkondiging, geloof, lewe en teologie.”

Ons kerkwees, ons elkeen se geloof staan of val by die opstanding. Dit is waarom Paulus in 1 Korintiers 15:14 skryf: “As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.”

Paastyd loop in die kerklike jaar vanaf Goeie Vrydag en Paassondag deur tot by Hemelvaartdag. Op Paassondag breek die lig deur. Jesus het opgestaan! Dit is daarom nogal heel besonders as ‘n gemeente ’n vroegmôre Paasdiens het wanneer die son opkom op Paassondag. Of die gesin kan sommer net saam die dag sien breek en dan vir mekaar sê: “Die Heer het opgestaan!   Die Heer het waarlik opgestaan!”

In die weke na die Paasnaweek kan ons die tyd gebruik om onsself opnuut aan die Here toe te wy. Dit is ‘n tyd van groot vreugde waarin ons die nuwe lewe in Christus vier. Dit is ‘n tyd waarin lig en helder kleure in die huis en die kerkgebou ons kan herinner aan hierdie nuwe lewe. In die vroeë kerk is nuwe bekeerlinge op Paassondag gedoop.    Daarmee is dan ook bevestig dat hulle saam met Christus uit die dood in die lewe opgestaan het. Romeine 6:4 se juis: “Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei.” Dit is steeds iets baie spesiaal wanneer gemeentes dit so reël dat Doopsondag op die dag val. Belydenisaflegging van nuwe lidmate pas ook uitstekend op Paassondag.

Net ‘n opmerking oor die paaseiers en paasbolletjies.  Alhoewel dit ook maar deel van die geldmaaksindroom van ons tyd geword het, kan ouers tog moeite doen om dit by hulle kinders se Paasbelewenis te integreer:  die kruis op die paasbolletjies verwys na die kruis op Goeie Vrydag, en die eier verwys na nuwe lewe wat uit ‘n dop (wat die graf simboliseer) uitkom. 

(Aan die einde vind u ’n inligting stuk wat u kan help om dit met kinders te deel.)

Die Paastyd mag nie afgeskeep word in die lewe van gelowiges nie. Die Duitse skrywer M. Josutti het selfs gesê: “Die kerk hou op om kerk te wees indien hy in die Paasverkondiging sou begin swyg.”    Mag dit tog nooit van ons gesê word nie.

Mag Paastyd ook vanjaar vir elke gelowige en vir elke gesin en gemeente ‘n besondere ervaring wees, ‘n tyd waarin ons mekaar gedurig daaraan herinner: “Die Here leef! Hy leef in ons!”

  • “Christus se opstanding word nooit vir ons ‘n deurleefde werklikheid nie – totdat die opgestane Here deur sy Gees in ons woon”.  Peter Marshall
  • “Ons Here het die belofte dat ons wat in Hom glo ook sal opstaan, nie net in sy Woord geskryf nie, maar in elke nuwe lewensblaartjie.”  Martin Luther

Inligtingstuk

Waar kom die paashaas vandaan?

Het dit enige godsdienstige betekenis?

Die paashaas is ‘n heidense gebruik lank voor Christus.    Die Christene het toe die gebruik oorgeneem en vergeestelik om hul pasga  meer gewild onder Christene te maak.  

In die oosterse lande word die paasfees gedurende die lente gevier wanneer alles weer begin lewe na ‘n lang koue winter.   Bome bot, blomme blom en die diere paar.   Die fees vier die vernuwing van die lewe en hoop op die vrugbaarheid van die oes.   Dia Sakse het geglo aan ‘n vrugbaarheids godin genaamd EASTRE of EOSTRE en haar lewe word deur die fees geëer.   Vir die godin was die hase heilig omdat hulle so vrugbaar is.

In die tweede eeu na Christus het die sendelinge die noordelike stamme evangeliseer.  Hulle het probeer om die godsdiens en dan in besonder die paasfees meer gewild te maak onder die stamme.  Daarom het hulle die heidense gebruike  vergeestelik.    Die heidense fees het dieselfde tyd as die paasfees plaasgevind en daarom was dit maklik om die dood en die opstanding van Jesus hiermee te laat saamsmelt..   Hulle het die onskuldige haas wat so vrugbaar was die plek laat neem van die lam sonder gebrek wat geslag moes word.  Dit word weer versimboliseer met Christus as onskuldige se kruisdood.  ‘n Offer wat Jesus gemaak het.

Die Duitsers het weer geglo dat die paashaas gekleurde eiers gelê het in ‘n nes wat vir hul gebruik agter gelaat is.  Die Duitse settelaars het die gebruik weer oorgedra na Amerika.

Eiers was weer op hul beurt ‘n simbool van weergeboorte wat weer heenwysings gehad het na lente feesvieringe.  

Pous Gregory die Grote het die eet van paas eiers verbied gedurende die lydingstyd.   Dit het veroorsaak dat die eet van paaseiers baie gewild geword het op paasmaandag.    Kinders moes die gekleurde paas eiers wat in die tuin versteek was gaan soek.

Vir ons vandag het eiers ook die belofte van nuwe lewe.  Die eier moet in homself sterf om nuwe lewe te gee.

So is dit ook met Christus wat in homself moet sterf om nuwe lewe te waarborg.

Ds Sas

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

20 + = 23