Vreemde Geluk Reeks 23 April 2023

VREEMDE GELUK

Ons behandel in hierdie reeks ‘n Bybelgedeelte wat alombekend staan as die “saligsprekinge”. Nege keer hou Jesus in Matteus 5:3-11, die belofte van geseëndheid aan ons voor.

Die vraag is, wat bedoel Jesus met die woord “geseënd”? Roep die woord die regte assosiasie by ons op?
Verstaan ons dit soos wat Jesus dit bedoel het? Ons is geneig om die woord “seën” deesdae gelyk te stel aan voorspoed. Heimlik dink ons dat iemand wat geseënd is, geen terugslae beleef nie. Daar is nie in so ‘n persoon se lewe dinge soos teëspoed, oormatige moeilikhede of ernstige siekte nie. In óns woordeboek is iemand wat probleemloos deur die lewe kan gaan, werklik geseënd!

Jesus se woordeboek lyk egter heelwat anders. Ja, bogenoemde aspekte kan soms tel as God se seën. Ons dank immers die Here vir ons materiële besittings en ons gesondheid. Maar dit is asof hierdie dinge op ‘n sekondêre vlak lê. Vir Jesus lê “geseëndheid” op ‘n dieper vlak.

In Grieks gebruik Jesus die woord “makarios” wanneer Hy oor “seën” praat. Die beste wat ons die betekenis van hierdie woord kan weergee, is om te sê dat dit die geluk is wat jy beleef as jy wéét dat jy die guns van God geniet. Hierdie guns van God word egter nie gemeet aan materiële welvaart nie, maar aan geestelike welstand. As jy ‘n geestelike welstand voor God het, leef jy met die vrede dat God jou lewe goedkeur.

Ons wat Jesus as Verlosser aangeneem het, leef met die addisionele blye wete dat die Here se goedkeuring oor ons, blywend is. Hy is immers met jou tevrede – nie oor wat jý gedoen het nie – maar oor wat Jésus gedoen het. Die geluk wat hieruit vloei is dus nie so wisselvallig soos die soort geluk wat gebou is op die Johannesburgse aandelebeurs nie. Nee, dit is ‘n onwankelbare geluk geskoei op God se onveranderlike tevredenheid met jou – te danke aan Jesus.

In kort kom die wêreld se definisie van geseëndheid dus neer op ‘n soort oppervlakkige, tydelike geluk wat afhang van eksterne omstandighede. Daarteenoor is die seën waarvan Jesus praat, ‘n diepgaande geluk geanker in die innerlike vrede wat jy in jou verhouding met die Here beleef.